Spring na inhoud

25 Oktober 2025

Herdenking van die Reformasie

Op 31 Oktober gedenk ons die Reformasie — die herontdekking van die Evangelie van genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen.

Deur Kerkraad GK Wesrand

Op 31 Oktober 1517 het Maarten Luther sy 95 stellings aan die deur van die Slotkapel in Wittenberg vasgespyker. Hierdie eenvoudige akademiese uitnodiging tot debat het ‘n vlam aan die brand gesteek wat die kerk vir altyd verander het.

Vyf “Solas” wat ons vandag nog rig

Die Reformasie het ons teruggebring na vyf eenvoudige Bybelse waarhede:

  1. Sola Scriptura — die Skrif alleen as ons enigste reël vir geloof en lewe.
  2. Sola Fide — geregverdig deur geloof alleen, sonder die werke van die wet.
  3. Sola Gratia — gered uit genade alleen, nie op grond van enige verdienste van ons kant nie.
  4. Solus Christus — Christus alleen as ons Middelaar en Verlosser.
  5. Soli Deo Gloria — alle eer aan God alleen.

Hoe ons hierdie jaar gedenk

Op die laaste Sondag van Oktober preek ons spesiaal oor ‘n Reformasie-tema. Almal is van harte welkom om saam te kom dink oor wat dit beteken om kinders van die Reformasie in 2025 te wees.

“Hier staan ek, ek kan nie anders nie. God help my. Amen.” — Maarten Luther

reformasie geskiedenis